KAAPSTAD - Talle betogers het Vrydag opgeruk om hulle steun te wys vir 'n onderwyser van Kaapstad wat beweer 'n oudkollega het haar seksueel geteister.
Kelly Manus, 'n voormalige leerkrag by die Symphony High School in Belhar, het op sosiale media beweer sy is geboelie en geviktimiseer nadat sy die voorval by die skool se waarnemende hoof aangemeld het.
Die waarnemende skoolhoof is ook die vermeende oortreder se vrou.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement sê Manus beklee tans 'n onderwyspos by 'n ander skool omdat haar kontrak by die Symphony High School aan die einde van 2024 verstryk het.