Die aktrise Michelle Botes word onthou as 'n talentvolle kunstenaar wat Suid-Afrika se televisielandskap verryk het.
Botes is Saterdag vroegoggend in die ouderdom van 62 oorlede.
In die jongste uitgawe van Bruis het sy uitgewei oor haar stryd met 'n seldsame tipe bloedkanker.
Die tydskrif berig die siekte is in 2022 by Botes gediagnoseer, en sy het aanvanklik chemoterapie ondergaan en 'n stamseloorplanting gehad.
Sy het egter later besluit om nie met dié behandeling voort te gaan nie.
Botes was veral bekend as Suid-Afrika se eerste TV-feeks weens haar rol as Cherel de Villiers-Haines in die sepie Isidingo.
Sy was ook in Binnelanders te sien, sowel as die TV-reekse Legacy, Arende en Konings.