Boer in arres na Senekal-chaos

‘n Landbou-organisasie glo geweld is nie die oplossing nie, maar verstaan boere se frustrasie.

PRETORIA – ’n 52-jarige Vrystaatse boer is in hegtenis geneem vir sy beweerde aandeel in die geweld wat Dinsdag buite die landdroshof in Senekal uitgebreek het.

Skote het buite die hof geklap toe woedende boere die gebou bestorm het na die verskyning van twee moordbeskuldigdes.

’n Polisievoertuig is ook omgegooi en later aan die brand gesteek.

Die verdagte gaan van opsetlike saakbeskadiging en openbare geweldpleging aangekla word en sal binnekort in die hof verskyn.

Die landbou-organisasie Agri SA het Woensdag toegegee dat geweld nie ‘n oplossing is nie, maar sy bestuur sê hulle verstaan boere se frustrasie oor plaasaanvalle en -moorde.

Die geweld het uitgebreek toe twee beskuldigdes in die hof verskyn het vir die moord op plaasvoorman Brendin Horner verlede week.

Die boere se optrede buite die hof is wyd veroordeel deur ministers, vakbonde en burgerlike organisasies.

Source
eNuus